Hierdie is die eerste van’n aantal verslae wat vertel wat ons ontdek het. Lees gerus, en deel met ons wat jy dink daarvan, of wat jy dink die implikasie is van wat jy hier lees.
Familiekerk NG Kameeldrif
Y-Knot
Fisiese Konteks
Ons gemeente en haar omgewing:
• is geleë in die Roodeplaat-omgewing, ‘n landelike gebied Noord-Oos van Pretoria wat nie swaar industrieë het nie maar wel ‘n paar winkelsentrums, asook ‘n aantal vakansie-oorde, luukse herberge en wildplase; dit sluit ook die Baviaanspoort Gevangenis in met inwonende personeel (met kinders) en ‘n afdeling vir jeugmisdadigers; infrastruktuur (paaie, water-voorsiening, krag) is relatief goed (alhoewel 23% mense daagliks hout/steenkool en kerse gebruik).
• die “gemiddelde” ouderdom van ons lidmate is ongeveer 37 jaar — 63% is jonger as 40 jaar en 37% is jonger as 25; minder as 10% is ouer as 65 jaar (wat ‘n weerspieëling van ons omgewing is);
• ons gemeentelede is hoofsaaklik Afrikaanssprekend (terwyl 29% in ons omgewing Sepedi en 27% Afrikaans as huistaal het en die meerderheid waarskynlik Afrikaans en/of Engels verstaan);
• lidmate is meesal finansieel onafhanklik en woon feitlik deurgaans in goeie tot luukse huise (terwyl die omgewing wissel van brandarm in plakkerskampe en agterplase tot welvarende mense in nuwe luukse landgoed (“estates”));
• lidmate maak van eie motorvervoer gebruik (terwyl slegs 18% van die inwoners oor eie vervoer beskik — meeste mense woon verder as loopafstand van die kerk-kompleks af);
• meeste lidmate werk of studeer buite ons gemeente-grense (terwyl 14% van die omgewing se mense bo 18 werkloos is, 31% ekonomies onaktief is en die meeste van hulle wat wel in diens staan, binne ons gebied werk en ‘n baie lae inkomste ontvang);
• lidmate ouer as 20 beskik minstens oor ‘n matrieksertifikaat (terwyl die onderwyspeil van die omgewing ouer as 20 wissel van geen of net ‘n mate van skoling (47%) tot 7% met naskoolse kwalifikasies);
• gemeente-kinders woon ‘n groot verskeidenheid skole by waarvan net drie laerskole en ‘n aantal kleuterskole binne ons gemeente se grense val (terwyl ‘n groot aantal kinders (44%) in ons omgewing geen skool bywoon nie);
• ons Gemeente werk nou saam met ander organisasies soos kerke en die CMR (die gebied word ook bedien deur verskeie ander kerke wat die Hervormde en Gereformeerde Gemeentes insluit);
• ons beskik oor ‘n goedgeleë en doelmatige kerkkompleks wat in ‘n proses van modernisering en opgradering is, met genoeg ruimte vir addisionele fasiliteite — gemeentelede (insluitende ons jeug) geniet die ligging, tuine, hoofgebou en atmosfeer (by skatting het minder as helfte van die omgewing se inwoners “toegang” tot formele kerkgeboue);
• erediensvoorkeure van ons gemeentelede word ondervang deur ‘n gelyktydige formele en informele (of minder formele) diens (in die hoofgebou en in die saal onderskeidelik) — jonger kinders woon ‘n erediens saam met hul ouers by;
• die huidige fisiese opset van die NG Familiekerk Kameeldrif is tot ‘n hoë mate ‘n weerspieëling van ons gemeente se teologie.
Laasgenoemde stelling het heelwat debat uitgelok, maar is ‘n poging om te sê . . .- dat ons teologie, soos ons fisiese opset, tans eerder gemeente-gerig as omgewings- of wêreld gerig is;- dat die veranderings aan ons fisiese opset (soos die veranderinge aan die kerkgebou en die beplande verhoudingsbou-area) verband hou met die veranderinge wat besig is om in te tree in ons teologie.