Ek sit eintlik al lank en top oor hierdie preek, ek weet al vir maande lank dat iewers sal ek hom wil preek, ek het geweet dat ek oppad is hierheen, maar selfs nou, net ‘n paar dae voor Sondag, besef ek net hoe moeilik dit is. En dit is tog vreemd, want die kerk is dan nou veronderstel om die expert op “God” te wees, dominees is mos veronderstel om vinnig vir jou te kan vertel wie God is, nie waar nie?
Ek raak al hoe meer oortuig dat as iemand te vinnig God in ‘n paar stellings vasvang, dit waarskynlik nog nie God is nie. Ja, God is vir die kleinste kindjie “kenbaar”, selfs die kleinste kindjie kan iets van God ervaar, en ek dink verstaan ook. Maar altyd sal ons maar besig bly om nog oor God te praat. As dit nie so was nie, as God nie ook partymaal baie moeilik was om te verstaan nie, dan was dit tog nie God nie, of hoe?
Elkgeval, dis moeilike goed, maar ons moet tog iewers vir mekaar sê: “hoe praat ons dan nou oor God?”. O, ek moet dalk net noem, hierdie is nie die plek waar ons God gaan bewys nie, daarvoor sien ek nie kans nie. Nee, in God glo ek, ek beleef God, maar bewys weet ek nie so mooi van nie. Wat ek eerder dink belangrik is, is hoe praat ons dan oor God? Watse woorde gebruik ons oor God?
Kom ek maak net ‘n paar laaste opmerkings. Ek dink daar is beter en slegter maniere om oor God te praat. Ek dink daar is maniere wat ons oor God praat wat ons uiteindelik tot ongeloof sal dryf, omdat dit net nie sinmaak nie. Ek dink daar is maniere waarop ons oor God praat, waarmee ons ander mense baie seermaak, omdat ons ‘n God skep wat hulle nie kan hanteer nie. Maar genoeg van dit, ek gee jou bietjie dinkstof tot Sondag…
Daar is basies twee maniere waarop mense oor God gepraat het. Die een is ‘n God wat daar ver is, wat van tyd tot tyd afkom om iets te doen hier op aarde. Die ander is ‘n God wat hier is, wat orals is, waar alles wat bestaan binne God is, en God nog groter as dit alles is. Waar alles wat gebeur is God gebeur, en ons nie kan sê dat God spesifiek nou iets gedoen het, en op ‘n ander tyd niks gedoen het nie. Dit is hierdie tweede manier van oor God praat wat ek bietjie oor wil gesels Sondag…