Ons lees Sondag die verhaal van Naäman se genesing in 2 Konings 5 saam. Dit is ‘n ongelooflike storie wat aan die een kant so mooi met jeugdag link, wanneer dit begin vertel hoe ‘n meisie, ‘n jong dogtertjie (ek hou dalk net daarvan om te dink sy was maar nog ‘n kind), vir hierdie belangrike man vertel dat hy genesing by Elisa sal kan kry.
Die verhaal moes ou Israel se wêreldbeeld bietjie kom skud het, want dit kom vertel van ‘n geloof wat universeel is, wat groter as net hulle volk is. Tog so menslike probleempie, dat ons alewig maar dink dat God meer van my groupie hou as van ander. Maar Naäman die Siriër word genees deur Elisa die Israeliet.
Nog ‘n ongelooflike ding wat mens bietjie laat wonder is die openheid wat Elisa het. Naäman vra hom vir grond om op te offer, want in daai tyd is geglo dat jy net op die land van die God wat jy aanbid mag offer. So, nou ry Naäman twee vragte grond aan om ‘n altaar op te bou. Maar dit gaan verder, hy vra sommer byvoorbaat omverskoning omdat hy steeds gaan moet gaan aanbid by die god van sy koning, en Elisa moan nie met hom nie.
Die Jode van Jesus sy tyd het hierdie storie maklik misgelees, en wanneer Jesus volgens Lukas dit tydens sy intreëpreek onder hulle neuse kom vryf dan wil hulle hom doodmaak. Gaan lees gerus Lukas 4:16-30, veral vers 27-30. En as hierdie radikale boodskap onder one neuse gevryf word?
Ek dink ons is so bietjie soos Naäman, deurdat ons genesing nodig het, en dit dalk moet soek op ‘n plek waar ons glad nie aan dink nie. Ons is ook so bietjie soos Elisa, deurdat ons genesing moet bied op plekke waar ons glad nie aan dink nie. Ons is maar net mens deurdat ons steeds moet leer hoe radikaal groot God se plan met dinge is.
Wat sê hierdie gedeelte vir ons gemeente? Wat sê dit vir ons as gelowiges in Suid Afrika? Wat sê dit vir jou individueel? Hoe preek mens vandag oor so iets?