Posted by: cobus | Mei 29, 2008

projek 373

Aksieplan :  Projek 373

Die gemeente het met skok kennis geneem van die moorde en sinlose, geweldadige misdaadgeweld in ons gemeenskap.  Ons wil ons verontwaardiging en woede uitspreek oor dit wat tans aan die gebeur is en ook dit wat reeds die afgelope tyd gebeur het.   Dit is onaanvaarbaar dat brose mense wat aan ons sorg toevertrou is verkrag, vermink en gedood word.  Ons ly saam met die res van Suid-Afrika waar baie gemeenskappe en kulture slagoffers geword het van misdaadgeweld.  Dit is vir ons onaanvaarbaar dat hierdie misdaad veroorsaak dat gemeenskappe as gevolg van die optrede van misdadigers mekaar begin wantrou en in vrees begin lewe.

 

Omdat ons ’n vaste geloof het in die Drie-enige God wat nuwe lewe uit niks kan skep, word ons gedryf om op hierdie situasie met ’n omvattende aksieplan te reageer.  Ons glo dat Psalm 37:3 weer sigbaar kan word en ons wil daaraan meewerk om ons gemeenskap met die krag van God weer veilig en nuut te maak. Ons erken dat ons deel van Suid-Afrika is en dat baie gemeenskappe en kulture is wat ly onder misdaadgeweld

 

Ons noem die veiligheidsaksieplan Projek 373 na aanleiding van Psalm 37:3 : “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort.”

Dit is dan ook die visie wat ons vir ons gemeenskap het – ’n veilige plek sonder verlies, hartseer, ontsteltenis, pyn, woede, gevoel van ontreddering en angs as gevolg van mense wat uit beheer is.

 

Ons aksieplan lyk soos volg:

 

Gebed: 

Ons is afhanklik van die Here en ons kan niks sonder Hom doen nie.

        Daarom bid ons gebedsketting daagliks vir die misdaadsituasie in ons gebied.

          Ons bid ook elke Maandagaand om 19:00 saam met die res van die gemeenskap in ons eie huise.

        Selgroepe en Bybelstudiegroepe word ook gevra om die misdaadsituasie in ons land elke keer as hulle bymekaar kom op die tafel te sit vir gebed.

        Ons bid spesifiek vir die land se regering dat daar sterk leiers na vore sal tree wat die situasie onder beheer sal bring

 

Draers van hoop

Gelowiges is altyd draers van hoop- al lyk dit of alles rondom ons vergaan. 

-          Daarom sal ons steeds in ons eredienste op God gefokus bly en aan Hom bly vashou

-          Ons sal mense aanmoedig om hulle persoonlike verhouding met die Here te herstel

-          Ons sal mense leer hoe om God toe te laat om hulle denke te vernuwe

-          Ons sal ook die Lewende Water van sy Woord na ons gemeenskap bly uitdra deur ook saam met die ander Christelike kerke in ons omgewing hande te vat in uitreik projekte

-          In samewerking met die gemeenskap wil ons ook ’n sentrum vestig waar predikers en gemeenteleiers van inheemse kerke opgelei kan word om dan later die Woord self aan hulle lidmate te haan uitdeel.  Waardes soos respek, liefde, en verdraagsaamheid sal gekommunikeer word.

 

Professionele ondersteuning:

Wanneer iemand deur misdaadgeweld getref is, is dit nodig om professionele hulp te kry. 

-          By ons familiekliniek is daar professionele persone beskikbaar om jou hiermee by te staan

-          By die krisissentrum wat daagliks by die polisiekantoor beman word, word mense wat getraumatiseer word, ontlont en verwys na professionele hulp.

-          Ons hou ook elke Sondag na kerk ’n gespreksgroep vir almal wat deur misdaadgeweld getref is.  Ons glo dat die gesprekke daar so gefasiliteer word dat persone wat self deur misdaadgeweld getref is, mekaar kan help om heel te word.

-          Gespreksgroepe vir skoolkinders wat deur trauma gegaan het,  sal by skole en by die kerk gefasiliteer word

 

Inligting

Mens kan nooit genoeg kennis hê oor hoe om veilig te lewe nie.  Ons beplan om die volgende inligtingsessies te hê

-          Sondae na kerk sal daar lesings aangebied word hoe om paraat te wees

-          Omdat alle bevolkingsgroepe in ons gebied ly onder misdaadgeweld sal daar ook ’n werkgewer/werknemer dag gereel word waar inligting oorgedra word

-          Daar word ook ’n inligtingsdag beplan waar veiligheids uitstallers hulle produkte kan kom bekendstel

-          Inligting sal ook op die muisbesoek deurgegee word

 

Netwerkvorming

Die gemeente sien sy rol ook om die verskillende rolspelers wat elkeen op hulle eie na veiligheid kyk, bymekaar te trek en as fasiliteerder op te tree om werk te koördineer.  Hier word alreeds saamgewerk met

-          Polisiëringsforum

-          Rampbestuur

-          Community support

 

Stem laat hoor

Dit is belangrik dat die wêreld weet wat aan die gang is.  Daarom sal ons van verskeie middelle gebruik maak om ons stem te laat hoor

-          Dit gebeur wanneer ons inskakel by die polisiëringsforum

-          Dit gebeur ook wanneer ons in die openbaar aksies onderneem om ’n bewustheid onder die breër publiek  te vestig, byvoorbeeld die manne wat hule hare afgesny het as simboliek dat hulle nie op hulle eie krag vertrou nie maar dat hulle ook hierdie saak aan die Here wil oorgee

 

Veilige huis

-          ’n “Veilige huis” word in die vooruitsig gestel waar slagoffers tydelik huisvesting kan kry

-          Daar is ook alreeds lidmate wat hulle huise as veilige plekke vir kinders wat onmiddellik van ’n misdaadsituasie verwyder moet word, aangebied het

 

Langtermyn

Ons glo dat elkeen in die land die reg het tot ’n menswaardige bestaan en tot vryheid.  Daarom ondersoek ons weë in ons omgewing om werklik ’n verskil te maak ten opsigte van armoede en ander faktore wat mense se menswaardigheid aantas.  Ons glo ook dat ons weer in ’n omgewing kan woon waar ons nie uit vrees heeldag oor ons skouers moet loer nie. 

 

Ons nooi jou uit om kommentaar te lewer…


Responses

  1. Ek is ‘n eks polisie speurder. Ons doen privaatondersoeke, en ek wil graag betrokke raak. Ek was teenwoordib by die laaste vergadering, en het gehoor hoe desperaat die mense is om net terugvoering vir ‘n begin by die polisie te kry. Kan u dalk van my gebruik maak om mense te “coach” om versigtig te lewe en paraat te wees, en ek kan altyd betrokke raak om die sake van geweld, roof en moord te ondersoek. Ons is ‘n span van die “ou skool” polisielede met die nodige ondervinding, opleiding en ervaring. Kontak my gerus op 082 453 5856


Leave a response

Your response:

Kategorië