Posted by: cobus | Julie 2, 2007

Welkom by Y-knot en blogging

Jy’s nou op die Kameeldrif blog. “Blog” is die 2004 woord van die jaar gewees, en Time het gesê dat die 2006 persoon van die jaar “Jy” is, a.g.v blogs. Skielik was die persoon van die jaar nie meer net een of ander belangrike/bekende persoon nie, maar “gewone mense” wat ‘n stem gekry het deur hoofsaaklik blogs.

So, wat is ‘n blog, en wat is Y-knot, en hoe pas hierdie twee by mekaar in. Hierdie is ‘n blog. Dit is ‘n website waar jy op ‘n maklike manier goed kan skryf, wat dan van dit wat die nuuste is, tot dit wat die oudste is gepubliseer word. Meeste blogs, soos hierdie een, maak ook plek dat ander kan kommentaar los, en so deelneem aan die gesprek (jy kan hier meer lees oor blogs).

Y-knot is die Noordelike Sinode se jeug netwerk. Hier probeer ons om meer as net ‘n vinnige kursus te bied, meer as net ‘n goeie spreker wat met al die antwoorde kom. Gemeentes stap vir ‘n jaar lank ‘n pad saam, hulle dink saam, droom saam, en leer by mekaar.

Dit was sommer ‘n groot span vanuit Kameeldrif gemeente wat saam met ons die pad gestap het. En dit was mense van alle generasies. Ons het ‘n paar tieners gehad, mense in hul twenties, jong ongetroudes, ma’s, pa’s, ‘n oupa en ouma, en almal het saam gewerk en saam gedink oor Kameeldrif, en oor ons jeug.

Ons beweeg nou in die droom fase in, en wil graag nou so veel as moontlik van julle deel maak van ons gesprek. In die weke wat kom sal ons stukkie vir stukkie deel wat ons raakgesien het, en wil graag hoor wat almal dink. So volg gerus die gesprek, en neem deel. Los vir ons ‘n comment, of dit nou ‘n vraag, ‘n idee, of watookal is. Dit geld vir ons tieners, ons jong volwassenes, ma’s, pa’s, oupa’s en ouma’s. Almal is welkom!


Responses

  1. Haai almal,

    Vanaand, 13 Augustus om 18:00, is daar ‘n baie belangrike Y-Knot vergadering (in die konsistorie) en een en almal is welkom om saam te kom gesels. Die “prentjie”-drome wat julle tot dusver speel-speel saamgestel het, het ons probeer sorteer teen een muur van die konsistorie. Daar kom ‘n interessante boodskap na vore – ek mag verkeerd wees, maar my interpretasie daarvan sou ek so kon opsom:

    “Ons droom van ‘n gemeente waar almal welkom voel, waar dit lekker is en waar lekker dinge gebeur, waar ons geestelik groei nader aan Christus, waar gesinsbande versterk word en gesinne as geheel betrokke raak, waar menseverhoudings gebou word en vriendebande gesmee word, nie net binne ons gemeente nie, maar ook na die wêreld daar buite, met gemeentelede wat werklik ‘n verskil in die wêreld (en veral in ons gemeenskap) maak bloot deur hul manier van leef: Christene wat met sagte harte God se lig en lewende water beskikbaar maak en so deel word van Sy nuutmaakproses.”

    Gaan hierdie mooi droom net ‘n droom bly? Kom maak saam met ons seker dat dit ook God se droom vir ons gemeente is en of Hy nie dalk ‘n groter en nog mooier droom vir ons het nie. Kom bid saam met ons oor hoe Hy sy droom vir ons wil waar maak en waar en hoe Hy jou in die proses wil gebruik.

    “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing” (2 Tim 1:7).

    Ons bid gereeld: “Stuur ons, Heer, met sagte harte. Ons wil skyn soos ware ligte. Stuur ons, Heer, ons wil u Woord uitdra, dit laat vloei soos lewende water”. Het God al hierdie gebed van jou verhoor?

    Groete en seënwense,
    Kobus


Leave a response

Your response:

Kategorië